Tuesday 14 February 2012

Absolut Menlo 2013

Geagte  Belangstellende Parkie


 
As ons ‘n huwelik was, is begin uitkyk vir ietsie van goud; was ons ‘n motor, is al amper van ons as vintage gepraat. En was ons ‘n swak bottel rooiwyn, dan was ons nou suur, sommer baie suur.

Maar nou is nie een van ons suur nie, ons sien eerder trots en glimlaggend en halsreikend uit na hierdie mooi skool van ons se vyftigste verjaarsdag wat volgende jaar aanbreek.


Fotobron

Ja, Die Hoërskool Menlopark en Johnny Depp was saam in die doeke; toe die Beatles hul eerste langspeler uitgereik het, het hoërskoolseuns en –dogters in die ooste van Pretoria geoefen aan hul spiksplinternuwe skoollied.


Dit was ‘n opwindende jaar daardie. En elkeen wat daarop gevolg het, het daarop voortgebou om ons te bring waar ons vandag staan – een van die voorste skole, nie net in Pretoria nie, maar die hele Suid-Afrika.

Suid-Afrika het self ‘n lang pad gestap sedert die Rivonia-verhoor in 1963 begin het, maar na ons beskeie mening het Die Hoërskool Menlopark nog verder gestap.


En om dit alles te vier, beplan ons, nie sommer net ‘n verjaarsdagfees nie, maar ‘n verjaarsdagfeesjaar – ‘n goue jubileumjaar soos die Britse Koningshuis ons dit nie sal kan nadoen nie (en die NP toe nooit die geleentheid gehad het om te doen nie).


Nie suiwer omdat ons wil nie, maar omdat die skool en sy lieflike verlede, elkeen wat hier op skool was, elkeen wat hier op skool is, en elkeen wat in die toekoms nog hier op skool gaan wees, dit verdien.

As jy daarom nie gepla is oor die feit dat ek jou pas as “jy” in plaas van “u” aangespreek het nie, en “ja” geantwoord het op enige een (of selfs geeneen nie) van die lawwe vrae wat gesels per e-pos ingelei het, gee ek graag amptelik en formeel, volgens die Romeins-Hollandse Reg meer as twee weke voor die tyd, hiermee kennis dat ek jou, of jou wederhelf, nooi na die amptelik en baie formele stigtingsvergadering van:

Die Hoërskool Menlopark
Goue Jubileum
se
Absolut Menlo
Halfeeufeesjaar-feeskomitee
.

Hierdie vergadering van DHM-GJ-AM-HFFK sal plaasvind op Woensdag 28 Maart en 18:00 afskop. (Ons beloof om daardie aand aan ‘n nuwe naam te werk.)

Almal, met die uitsondering van die halfpad-gevrektes (omdat hul gevaar  loop om hulself dood te werk) is welkom. Die res van ons onderneem om ons beslis nie af te sloof in slawerny nie – maar om net lekker saam te werk.


Onthou - die groot werk is hiérdie jaar – volgende jaar sit ons terug en pluk die vrugte – so moenie dink jy hoef nie te kom omdat jy nie volgende jaar meer ‘n kind hier by ons op skool het nie, of omdat jy geen kind by ons op skool het nie. Dis geen voorvereiste nie. As jy trouens weet van ‘n trotse oud-Parkie sonder enige huidige verbintenis met die skool, vra ek jou, smeek ek jou, om asseblief hierdie e-pos en skakel vir hom of haar aan te stuur.

En daar loop ons nou weer gevaar om die ouers wat nie oud-Parkies is nie, in hul dop te laat kruip. Moet asseblief nie – ‘n ieder en ‘n elk met ‘n hart (ons praat nie van hande en voete of beursies nie, ons praat van ‘n hart!) vir Menlopark is welkom.

Laat weet asseblief net per kerende e-pos van jou voorneme om wel die vergadering by te woon.

Laat weet ook as jy nie daardie betrokke aand hier kan wees nie, maar op hoogte wil bly en dalk later by ons wil aansluit.

Ons sal dan per e-pos laat weet waar op die skoolterrein die vergadering gaan plaasvind – dit sal ‘n harsteer dag wees as ‘n klaskamer die aand groot genoeg is, hopelik is dit die personeelkamer, die ouditorium, die saal of die paviljoen. Maar moenie verbaas wees as ons genoop word om die vergadering na die Stad- of Skilpadsaal te verskuif nie.



Dit is mos immers nou maar een maal hoe ons Parkies is:  ons streef die hoogste na!


Die belangrikste van alles, of jy nou 'n Parkie was of is, of jy kinders hier het, hier had, of nie het nie en nie had nie:  teken asseblief hier onder, by FOLLOW BY EMAIL, in om kennis te ontvang van enige bloginskrywings op hierdie blog.

Ons het reeds staaltjies en stories ontvang met die oog op 2013 se herdenking. Die gedagte is om die matrieks wat elke jaar die dik boek geteken het (na net mooi 50 jaar is hy nou ook vol) se name en handtekeninge hier te plaas. Miskien plaas ons brokkies uit die ou jaarblaaie.

En dan sal terugvoer en vordering rondom die feesjaar ook hier bygehou word.

Enige verdere voorstelle word waardeer.

13 comments:

  1. Ek en my vrou was beide in Menlo (88 ; 90) en volgende jaar het ons twee seuns in die skool. Sien baie uit om betrokke te raak

    ReplyDelete
    Replies
    1. So bek moet Botter kry ;-)

      Delete
  2. Ek hou nie van hard werk nie, maar ek hou van partytjies, ek is nie stinkryk nie, my wederhelf ook nie, my eerste seun was nie 'n prefek nie, en as ek reply, sal iemand asb sorg dat die 2de enetjie erens kom voor die skool 50 word?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Go Marieta!

      Ek of my wederhelf was nie een in Menlopark nie en ek het amper in my dop gekruip, maar noudat my derde enetjie ook in die skool is, voel ek ook al soos 'n Parkie :)

      Delete
    2. Ek het al menigte kere saam met Marieta partyjies gehou en gee nie om vir werk nie. My eerste seun was ook nie n prefek nie, maar mens weet nooit wat kan gebeur voor die skool 50 word nie. Ek kom die 28ste, want ek was ook 'n Parkie.

      Delete
  3. Ek is verseker 'n bok vir sports....Afrikaners is mos plesierig, nie stinkryk, en raak graag by my meisiekind se dinge betrokke. Ek was self nooit 'n Parkie hoewel ek wou wees maar die "suburban grense" het in my in daardie apartheids jare weggehou. So ek meld aan vir Absolut alles rondom hierdie Goue Jubileum.
    Dis verseker die minste wat ek kan doen in ruil daarvoor om elke dag na skool 'n dogter, met 'n groot glimlag van geluk op die gesig, op te laai!

    Ek kan ongelukkig net nie die 28ste bywoon nie omrede ek reeds betrokke is by 'n ander funksie.

    ReplyDelete
  4. Ek is nie stinkryk nie, maar het seker gemaak my dogter is by Menlo! Julle is absoluut 'n puik skool en my tweede sal ook daarna toe kom as finansies dit toelaat.

    Hou so aan Parkies - dis lekker om deel van die Menlo groep te wees! Sal beslis die 28ste bywoon!

    ReplyDelete
  5. As ons kan is ons daar! As ons kan sal ons help! Ons is trots op ons eie "ou" skole, maar nog trotser oor ons kind ook nou 'n Parkie genoem kan word.

    ReplyDelete
  6. Ek sal graag betrokke wil raak by die feesjaar beplanning en werk wat gedoen moet word. My kinders is altwee in Menlopark en dis vir my 'n absolute voorreg dat hulle hier kan skoolgaan, baie dankie. Met my oudste se inname in 2009 het dit al gezoem dat die skool 50 word in hul matriekjaar en was daar alreeds opgewondenheid. Die tyd het egter so vinnig verby gevlieg en ek kan nie glo ons is volgende jaar reeds daar nie. Absoluut 50, Menlo!!! Groete. Ronel

    ReplyDelete
  7. Anoet 1989

    Was onder Dr CIS se leierskap, het by Me Claassen klas gekry, het dogter in die skool, volgende een oppad (kan sy asb 'n beurs kry???), is 'n bok vir sports, wil stinkryk wees, wederhelf (nou nog suur omdat hy nie ook 'n parkie kon wees nie) betrokke - iemand moet geld verdien...
    Sal daar wee vir vergadering.

    ReplyDelete
  8. Was in Menlopark vir 12 jaar
    Was in Menlopark in graad een in 1968
    Het 12 jaar getroue skoolbesoek gehad - dink dit is lojaliteit :-)
    Het nou n dogter in graad een - Rozanne
    Sien uit daarna en sal definitief help waar ek kan

    Kobus van der Schyff

    ReplyDelete
  9. Nie stinktyk nie - wil graag wees, was nie 'n Parkie nie - my dogter was wel! Is "willing, able en bilingual" sal graag help waar ek kan. Net een probleem - hou self skool, oorwerk, "under-paid" en. en. en ...! Voordeel ek vrek vir 'n lekker partie!!!! My jongste meld volgende jaar aan as daar nog 'n gaaitjie iewers oop is.

    ReplyDelete
  10. Hallo Almal, ek het gesien hoe die skool gebou is en was in 1963 in std 6 (graad 8 vir die wat nie weet nie!) Julle moet nie so spot met die ou karre nie, daardie blou 1958 Ford Fairlane op julle foto was waarskynlik my pa sin! Ek het net mooi herinneringe van ons skooljare en sal graag die vergadering bywoon.
    Johann Heymann

    ReplyDelete