Thursday 3 May 2012

Los gedagtes rondom ses ou foto's

Toe ek hierdie bladsy uit ‘n Eggo skandeer het, het ek dit gestoor onder die opskrif “Eerste Eggo met foto’s”.
Ons het in die skoolkluis ‘n versameling Kwëvoëls en Eggo’s wat 'n leerder uit die beginjare van die skool in ‘n lêer gebind het. Hoe dit in die kluis beland het, sal ek nie weet nie.








Op die linkerkantste bladsy, vandag die boonste drie foto's, is dit nog net Menlovaria wat staan.

Volkspele het nasionaal amper 100% uitgesterf, op skoolvlak, 110%.

Die laaste matrieks wat Latyn gehad het, het in 2000 of 2001 klaar gemaak.

Ek wonder egter oor die duif aan die onderpunt van die skoolwapen.

Wat is die politiek gewees agter die verdwyning daarvan?

Hierdie in 1967 en daar is reeds leerders sonder die duif op die wapen.
Jana, bo in die middel, se ma het die wapen voorgelê en dit is so, met die duif, aanvaar. En toe is dit weer weg, moes dit vlerke kry en vlieg?

Bettie Cilliers-Barnard se voorstudie vir die wapen het tot redelik onlangs nog in die skool se voorportaal gehang en ek het my altyd verkyk aan die duif. Nou sien ek dit was op die kleurbaadjies ook.

En wat is dit met die hoede?

En hoe is dit dat 4 van die hokkiemeisies hoede op het, en die res nie?

Neem ek vandag ‘n amptelike foto, en die een helfte het iets soos hoede op en die ander helfte nie, kom ek in die moeilikheid. Dis of almal met, of almal sonder.

Sommige skoolbesture het ook ‘n kleintjie dood aan die nie-amptelike lapelwapentjies wat die leerders steeds lief is om te dra.

Die een outjie lyk weliswaar of hy ‘n blom in die lapel het. Dan is daar iets wat lyk of dit ‘n prefekwapen-kan wees. (Streng gesproke mag ons nie eens meer prefekte hê nie, en as ons het, moet ons hulle liefs nie eers “prefekte” noem nie.)

Dit was die jare voor pienk en rooi strikkies, maar daar was vlaggies en vlieënde Springbokke en allerhande ander lapelwapentjies.

Ek kan my egter nie voorstel dat die seuns daardie jare, soos vandag, met armbande sou lol nie – vandag is dit nie meer die olifanthaar-armbandjies van so ‘n paar jaar later wat party dae konfiskeer word nie, dis rekkies en geweefde goedjies en bandjies met boodskappies.

So gedink aan bandjies “met boodskappies”. Wanneer het die “boodskappe” gekom wat in alles gelees moet word? Skoenlappers (vir meisies wat van blom tot blom, of ou tot ou, vlieg) en gehapte appels en “Peace”-tekens.

Die dogters se rompe het ook verander.

Ons het in geen jare aan die skooluniform verander nie – dis die een ding wat nie sommer met die kom en gaan van modes mee gepeuter word nie. Maar kyk ek daardie rompies so, is ek bly iemand het iewers ingespring. So van pas soos wat dit toe was, so onvanpas sal dit vandag wees.

Ons het ander skole hier in Pretoria wat in meer as 100 jaar nie aan hul dogters se uniform verander het, en selfs al is dit die laaste skool in die stad, sit ek my dogter juis om daardie rede nie eendag in daardie skool nie.

En dan is daar twee heelwat jonger groot skole as ons. Van die een het hulle dit 20 jaar gelede vir die waarheid vertel, dat die skooluniform doelbewus so belaglik gekies is sodat die leerders in Kaapstad en Windhoek en Timboektoe aan hul uniform herken kan word.

Ek dink nie vir een oomblik dis die waarheid nie. Maar dit sal my nie verbaas as dit waar is van die ander skool nie.

Weë die een wat op soortgelyke wyse voor my van Menlopark se klere en kleure sê!

Kinders is nooit teverede met hul uniform nie; ek dink baie het in 1967 gekla, soos hulle in 2012 ook maar kla.

Maar sit 'n netjies uitgevatte Parkie langs bykans enige ander skoolkind, en dis duidelik:  ons het styl.

Ek is bly dat ek as onderwyser nie meer op Menlopark jaloers hoef te wees nie, maar deel van die trotse tradisie kan wees.