Saturday, 24 March 2012

Lentedag 1967 (episode 2) en 14 April 2012

Hierdie hele kermis was drie bladsye in die Eggo van destyds. Maar om die 3 bladsye in geheel af te tas en dit dan op die blog te wil spoeg en plak sou die foto'tjies so klein gemaak het, dat dit nie moeite werd sou wees nie.

Toe knip ek maar elkeen uit.

Daarom ook dat dit oor twee inskrywings loop:  die aftas, knip, spoeg en plak vreet toe die hele toetsperiode op, en toe moes ek klas toe. Ek is ook bang 'n inskrywing raak te swaar aan die foto's en alles neem te lank om oop te maak.


Intussen het Pieter Swanepoel, hy was '67 in matriek laat weet:


Goeiedag Almal

Ek en Pieter van Niekerk (wat lank reeds in Kanada woon) het oor die jare kontak behou, hy is op 14 April 2012 op besoek in Pretoria .

Ons het afgespreek vir ‘n koffie by Java, in Lynnwoodweg, oorkant die manskoshuise.

Toe begin ons dink om nog ‘n paar ou skoolpelle te nooi en toe dink ons nee, nooi almal, seuns en dogters, met of sonder lewensmaats.

In groot organisasies, wanneer personeel verminder, praat hulle van ‘natural attrition’ (natuurlike afslyting) wat ook bietjie waar begin word vir ons klas van ‘67.

Sò (Dr van Aardt sou die stuipe kry, die korrekte voegwoord is: “Dus”) julle is almal hartlik uitgenooi om ons te join op Saterdag 14 April om 9h00 by Java ( toemaar, die Bulls speel eers 7nm). As julle weet van ander wat nie op die distribusielys is nie, sê hulle, asb.

Dis nou 45 jaar na matriek, ek sê maar net, lest we forget.

Julle moenie RSVP nie, ons wil nie weet wie kom nie, laat dit ‘n verrassing wees (nie ‘n verassing nie).

Laat dit juig tot dan….skryf die datum in op jou ipad en voel lekker as jy daai oggend opstaan.

O ja, daar is een voorwaarde, jy het net die eerste 5 minute om oor skete te praat, daarna is dit ‘verboten’.

Parkie- groete

Pieter Swanepoel


Hier dan episode 2 en die opregte wens dat Java 14 April stoele moet aandra van oorkant die pad by die manskoshuise.

(Iemand uit '67 wat met Pieter kontak wil maak, is welkom om my te e-pos; sy kontakbesonderhede gaan ek egter nie sommer hier aan die groot klok hang nie.)



Dis soos met 'n kerkbasaar in die Kalahari! Daardie wors lê die skottels vol in stringe. Daar word dit porsiegrootte afgedraai vir braai op daardie baie lae roosters daar agter. My rug, my arme rug!

Ek sien nou eers die ry vuur agter die roosters. (Die doel met hierdie blog is geensins om Afrikaner-Nasionalisme aan te wakker nie, maar hoe meer ek hierna kyk, hoe meer raak ek trots ek het bietjie van hierdie bloed in my voorgeslag ook. Hierdie foto vertel van iets uit die verlede waaroor ons goed kan voel.)




Ek glo dis pannekoek wat daar gerol word. Tweede in die ry staan 'n man met 'n swart pak, das en baadjie. Dis lentedag '67. 



Hoe lyk dit dan of die drie meisietjies regs skooluniform aan het. Kan tog nie wees nie. Wat het ons die pote van daardie tafels genoem? Donkies? Krukkies? Ek wonder of jy vandag 2 van hulle op die terrein sal opspoor. En dan was ek verniet so bewus van die vorige man se pak - kyk die spoggerige baadjie en blom in die lapel, daar in die middel.



Wat vir 'n stalletjie/kraampie het ons hier. Veldblomme?




Die bottels is leeg - teruggehandig vir die deposito, natuurlik. En die houte kissies met kouedrank onder die sinkbad links agter koop ons deesdae ten duurste aan.



Wat hierdie moeders doen, sal ek nie weet nie. Maar dit maak ook nie saak nie - stel jou net voor die tyd en aandag wat vanoggend elkeen se haarkapsel ingegaan het.



Ek het nie 'n idee waar hierdie geneem is nie - daardie leestafels wat teen die muur ingebou is, is jare al weg.

 

O, die tombola! Watter stalletjie is opwindender dan die tombola-een. Praat ons vandag van tombola dink die leerders dis 'n nuwe soort dans waarvan jy op youtube leer.



Sal dit nie lekker wees as die meisie links haarself kan herken en laat weet wat sy aanvang nie. Dit sal nie vissievang wees nie. Hier word ook nie 'n appel uit die meel geëet nie. Is dit die ma's se naaldwerk of die leerders s'n.



Dis die ouers wat orals al die werk doen. Het dit maar so gegaan?



As ek nou die seuntjie daar regs was, het ek tien teen een met begerige oê na 'n ornament gekyk wat ek self uit my ouma se huis aangedra het. Ek onthou hoe jaloers ek een jaar op 'n maatjie was wat een van die ornaments uit my ouma se display cabinet gewen het - twee glas mossies op 'n glastak, en dan is die mossies 'n sout-en-peper-stel. En vir daardie maatjie se ouer sussie se twee kinders het ek jare later hier by einste Menlopark skoolgehou.



Friday, 23 March 2012

Lentedag 1967 (1)






As iemand 'n naam herken, laat weet asseblief dat dit aangeteken kan word. Alet de Wet laat weet dat een van die twee mans hier voor die adjunkhoof, en pa van At en Arno, mnr. Botha, is. Links agter is mnr. Thys Malan (standerd 8U1 se registeronderwyser). Hy het ook Wiskunde gegee.

Ek raak skoon nostalgies

Wat sou van daardie roset geword het? En waarom daardie roset? Wat is dit met die Gemsbokke en die Koedoes? Ek hoor ons was die Mambas en die Adders voor ons die Griekse stamme geword het, so vanwaar die bokke? Hierdie is, as ek die boodskap reg lees, Paul Zietsman se jonger sussie, Annette.


Ek is nie eers seker waar hierdie foto geneem is nie. Hier is foto's wat lyk of dit geneem is waar die saal se ingangsportaal vandag is.



Die voorslagbakster heel voor se vlegsel val my op. Straks is haar agterkleinkinders ook al hier op skool gewees. Behalwe as ek die verkeerde foto beet het, is Ella de Vos en Hannetjie Pieterse se moeders hier aan die bak en bedien.

Waardeer asseblief die Jasmyn wat om die paal geveleg is - dis lentedag. Kyk en na die moeders en registreer ek die voorskote, weet ek dis 'n era wat vir altyd verby is. Ons moeders ploeg nog net so baie in, maar anders, op ander maniere en aan die hand van anderster insette.


Thursday, 22 March 2012

Die onnies en hul dinge

Te heerlik vir my hierdie kant om terugvoer rondom die onnies en uitskieters op die verskillende gebiede te ontvang en te laai.

Die idee om hierdie blog te begin kom onder andere ook van die volgende skrywe wat ons 22 Februarie ontvang het:

Geagte Skoolhoof en Personeel,

Wat ’n verrassing om my Alma Mater hier op die internet raak te loop, en om te sien dat julle nog steeds die nommer een in Pretoria is.

Nog dieselfde wapen, dieselfde skoollied, dieselfde adres. Net die Onnies het verander.

Verstaanbaar, as mens dink dat ek ook nie meer heeltemal dieselfde is as destyds nie.

Maar ek is seker vandag se Onnies is nog net so goed, streng en voorbeeldig as destyds.

Ek was van die heel eerste skoliere wat in Menlopark gematrikuleer het. Die skool is in 1963 gestig, vir standerd 6 tot standerd 8. Dus vir drie jaar na mekaar was ons 1963-ers die seniors, en kon ons ons wat verbeel oor ons status in die skool. Maar dit het ook gelei tot ʼn baie eng en besondere genootskap tussen ons en ons onderwysers/esse.

Van hier waar ons tans woon het ek onlangs (ten minste in my gedagtes) op ʼn nostalgievaart gegaan, en verskeie kort sketse geskryf oor die “goeie ou dae”, waarvan een handel oor my hoërskooldae. Tot my ergernis ontdek ek toe dat ek nie meer die naam van my Geskiedenisonderwyser kan onthou nie.

Hy is een van die mees besondere onderwysers, wat nog steeds in my onderbewussyn rondsluip en ʼn ogie oor my doen en late hou. Sy gesig is so duidelik soos daglig in my gedagtes, sy energieke en begeesterde aanbieding van al die wonderlike mense een gebeurtenisse wat ons gelei het tot die oomblik van noodlot waarin mens jou op enige gegewe tydstip bevind.

Die Geskiedenisklas van 1965 was nie soos skoolgaan nie, maar lekker soos teater, en mens kon nie wag om weer ʼn slag in sy klas op te daag vir die volgende spannende episode nie. Geen wonder dat ek op my nostalgievaart aan hom moes dink nie. En toe vergeet ek sy naam.

Dis om van nagmerries te kry, want my storie sal nooit regtig reg wees sonder sy regte naam nie, en dit is dan die rede vir hierdie brief. Is dit moontlik om na te slaan wie die senior Geskiedenisonderwyser in 1964/65 was?

En wat van hom geword het?

Baie dankie, voorlopig, vir die moeite. En beste groete uit die Alpe: toegesneeu en 20 C aan die ander kant van nul.

Excelsa Petamus, Absolut Menlo.

Ek het die man probeer help maar met die laaste briewewisseling het ons nog lank nie 100% sekerheid gehad nie.

Toe kom ek op die volgende in die eerste Kwêvoëls af en hoop dit kan hom straks help.




Dis amper 50 jaar later en die leerders doen steeds dieselfde, met net soveel oorgawe as destyds – hulle koppel die name van liedjies aan hul leerkragte, of hulle herinner hul onderwysers aan die sêgoed en uitdrukkings so eie aan die betrokke onderwyser.

Wat vir my 49 jaar later ontstellend is, is die feit dat sommige van hierdie aanhalings vandag nog, byna daagliks, op die skoolterrein gehoor word.

Hierdie laaste opmerking van mnr. Hatting speel homself daaglik, amper periode vir periode, af in die voorportaaltonnel van die skool.

Waarna mnr. Hatting verwys het, weet ek nie, dit kon nie 2012 se tonnel wees nie, want dié is eers in 2000 gebou. Maar dis duidelik:  hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Mnr. Botha, wie hy ook mog wees, word onthou vir “Die terrein is skoongemaak...” Ek het mnr. Manie Geldenhuis, huidige adjunkhoof, al male sonder taal hoor sê:  “Die terrein is skoongemaak, so ek sal nie die skool Vrydag later laat uitkom nie.” Male sonder tal.

Dit was daardie jaar seker nie vreemd vir ‘n onderwyser soos mnr. Engelbrecht om die leerders as “dames en here” aan te spreek nie; vandag se dae is dit heel uniek. In die 25 jaar wat ek skoolhou, weet ek van net een – ‘n jong, baie geliefde onderwyser wat nou drie jaar met ons is.

En dan daardie liedjies! It’s a sin, is vir my Pet shop boys se treffer uit die tagtigs. En dan moet ek tot my skande erken dat Rollo ver Beethoven ook vir my soos ‘n anachronisme gelyk het, maar ek was verkeerd. Ja, ELO het dit in 1973 opgeneem (die een wat ek ken) maar die Beatles het dit inderdaad in 1963 vrygestel, hoewel dit dan nou ook maar hul vrystelling van Chuck Berry se liedjie uit 1956 was.

Wednesday, 21 March 2012

29 Januarie 1963 (3)

Hier dan die derde toespraak gelewer tydens die opening van die skool destyds.
Dis opvallend dat ‘n vorige spreker die adjunkdirekteur van onderwys aanspreek as Meneer Koen, en hierdie spreker as Doktor Koen. Ek sal nou wonder wie was reg en wie nie. Wou die een spreker, meegevoer deur die grootsheid van die oomblik, bloot net spoggerig wees en meer luister aan die geleentheid verleen, of het die ander suiwer ‘n sosiale flater begaan. Hoe sal ons nou weet.
My vermoede is dat die persoon wat hier die woord gevoer het, dr. Marais, die voorsitter van die Waaksaamheidskomite was. Duidelik egter dat hy ook die ouergemeenskap op daardie oggend verteenwoordig het.



Tuesday, 20 March 2012

1981 se 335 matrieks

Ek wou so graag vandag, na gister se inset oor die 1978-matrieks, die einste matriekgroep se name spoeg en knip en plak, maar helaas, dit blyk toe dat hulle daardie jaar nie die boek geteken het nie.  Dit gebeur van tyd tot tyd.

Hier dan maar 1981 se matrieks. Ek sal jare later altyd wonder waarom party leerders nie geteken het nie. Was dit verstrooidheid, lydelike verset, siekte, swangerskap of dood? Sommer suiwer balhorigheid, of wat?

En dan het ons hier leerders wat in die verkeerde kolom geteken het. Ek wonder wat gaan deur die jaargroep se koppe as hulle dit raaksien. Iets soos:  "Ja, dis nou tipies van haar - trust haar om dit te kon gedoen het!" Of wat? Moedswilligheid?





















Monday, 19 March 2012

Francois Jacobcz (1978) laat weet

Goeie middag

Ek is 'n 1978-matrikulant. Ons groep was die merkwaardigste groep matrikulante ooit. Daar was 236 van ons met ‘n 100% slaagsyfer en net 'n handjievol wat nie volle universiteitsvrystelling gekry het nie. Daar was bekendes in ons groep soos Henning Gericke, Werner Stals en ander junior Springbokke. Annalie van Rooyen was ons hoofdogter gewees. Ons groep was die oorsaak dat 40 day-vieringe by alle TOD-skole verbied is, aangesien een van die onderwysers wat nie wou swem nie en toe slanerig geraak het, met 'n gebreekte kakebeen daarvan afgekom het. Dit was destyds op die voorblad van Hoofstad (Beeld se voorloper) asook die Citizen. As julle nog inligting soek, kan ek julle met nog stories en kontakpersone help.

Groete
Francois

Francois, jy maak my dag, nie my dag nie, my naweek en my hele week - dit is presies die rede waarom ek gedink het om aan die hand van 'n blog te kommunikeer:  om onder andere ook 'n platform te skep waar oud-Parkies herinneringe kan deel.

Ja, dis mondstuk vir die feesjaarvieringe waarby baie partye betrokke is, maar meer as dit. Ek hoop en wens en vertrou dat meer met verloop van tyd sal doen wat jy gedoen het.

Baie dankie, ons sien uit na nog stories en hoop jy kry die boodskap by so veel as moontlik van jou skoolpelle uit.

Sunday, 18 March 2012

29 Januarie 1963 (2)

Dit wil voorkom of die volgende dokument die seremoniemeester, vermoedelik die hoof, se toespraak is tydens die oggend van 29 Januarie 1963.
Ds. Du Toit, mnr. Koen en dr. Marais word onderskeidelik aan die woord gestel.
Hier is weer verwysings na die waaksaamheidskomitee en die persoon aan die woord maak by herhaling melding van ‘n gevoel van veiligheid.
As volslae leek en buitestaander wat betref eerstehandse ervaring van die tydsgees in die beginjare 60 in Suid-Afrika, en in besonder ooste van die hoofstad, Pretoria, begin ek die idee kry dat daar in die naam van hierdie komitee eerder sprake van ‘n geestelike waaksaamheid is, as waaksaamheid teen bomaanvalle en stedelike terreur is.
Ek wat in die vroeë tagtigerjare matriek geskryf het, is grootgemaak met ‘n sterk bewussyn van stedelike terreur en die rooi en swart gevare wat al wat wit is in die gesig gestaar het. Hier het die waaksaamheidskomitees die spreker bewus gemaak van die ouergemeenskap se behoefte in die kortsmoontlike tyd die agterstand ten opsigte van bestaande hoërskole in te haal.
Miskien daarom dat die waaksaamheidskomitee eerder op ‘n geestelike as fisiese weerbaarheid ingestel was.
Ek versoek weer, soos gister, dat enige iemand wat lig op die saak kan werp vir ons ‘n ligbaken (en dan gaan haal ek die metafoor by mnr. Koen se toespraak van gister) in die donker kan wees.
Ons het hier drie vanne van lede op die komitee:  dr. Marais (voorsitter), dr. Kloppers (ondervoorsitter) en mev. Le Roux (sekretaresse).
Daar is ‘n Martin Beyers en Martha Aletta le Roux onder die 1965-matrieks, ook ‘n Phillipus Johannes Kloppers, maar geen Marais nie. Miskien is hierdie oud-Parkies ‘n vertrekpunt, ek weet nie.