Saturday 17 March 2012

29 Januarie 1963 (1)

Nie net Die Menloparkse Hoërskool / Die Hoërskool Menlopark is amper 50 jaar ouer nie; Suid-Afrika het ook bykans 'n volle 50 jaar aangestap.

Die woorde van die adjunk-direkteur van onderwys (eers maar sedert 1991 dat ons dit sonder ‘n koppelteken, vas, as adjunkdirekteur spel) mnr. A J Koen, tydens die amptelike opening van die skool op 29 Januarie 1963, sal vandag uiteenlopende reaksies ontlok, selfs verskillende reaksies binne dieselfde leser se gemoed oopkrap.

In die bietjie minder as ‘n week dat ek doelbewus in my afperiodes by die skool in die verlede gaan krap, is ek al op meer as geleentheid aan die openingswoorde van  een van L P Hartley se romans herinner:  “Die verlede is vreemde plek:  hulle doen dinge anders daar.”

Soms is dit ‘n haarstyl wat my daaraan herinner, ander kere ‘n metafoor of beeld wat iemand gebruik. In hierdie teks van vandag val die ligbaken-metafoor my byvoorbeeld op. Maar dis in 2012, nie 1963, twee jaar na Republiekwording, nie. Daar lê sowat 50 jaar tussen  die Afrikaner van destyds en die een van vandag.

Met die dat ek eers einde 1963, vroeg 1964, in my ma se baarmoeder geanker is, is sommige verwysings in mnr. Koen se openingsrede aan my totaal onbekend.

Wat sou die “waaksaamheidskomitees” waarna hy verwys, byvoorbeeld wees. Selfs die huidige geskiedenisonderwyser by die skool, en ‘n man ook maar my ouderdom, kan hoogstens intelligent bespiegel, vermoed en raai.

As iemand kan help, sal dit vir die meeste van ons baie interessant en leersaam wees.



Friday 16 March 2012

Staat van ontvangstes en uitbetalings: 1965


Natuurlik sal R6 638-92 vir 'n ganske skool oor 'n hele jaar en vyf grade heen, lagwekkend belaglik kontrasteer met die R19 420-00 wat een enkele leerder se skoolfonds 50 jaar later is - daar lê immers 50 finansiële boekjare tussen die twee bedrae uitgestrek.

 
Dat jy egter jaarlank 'n snoepwinkel teen 'n winsgrens van 1.25%, 'n skrale R10-26, bedryf het, val 50 jaar later vreemd op die oog.

Ek wonder wat het rondom die tennisbane skeefgeloop dat prokureursuitgawes van 'n volle R3-15 aangegaan moes word.

Terloops, vir die van ons wat nie tans kinders in die Menlo-omgewing op hoërskool het nie:  ons skoolfonds is geensins die hoogste nie.

En ek wonder of dit ooit was.

Wednesday 14 March 2012

Die eerste Eggo was toe nie 'n Eggo nie








So sal ek altyd wonder wat daarvoor verantwoordelik was dat die tydskrif hier na twee jaar of so van naam verander het. Op wie se inisiatief was dit? Die redaksie, die lesers, of 'n onnie?

Dis duidelik dat die tydskrif aanvanklik suiwer deur die leerders, van die leerders, en vir die leerders was.

Straks het ons raserige geveerde vriend 'n basuin geword, 'n basuin wat die skool se gebeure en prestasies eggo, die dag toe dit die funksie van 'n volwaardige kwartaalblad, eie aan die latere jaarblad, begin vervul het.

1963-personeel

Ek is op soek na die eerste Eggo's wat uitgegee is  - in die begin jare was dit 'n kwartaallikse tydskrif en ek het van dit al hier by die skool gesien - maar ek kon dit tot op hede nog nie opspoor nie. Toe ek my my oë in  'n stadium dakwaarts gooi, kom ek op hierdie foto af.



Dit sal gaaf wees as van die oud-Parkies die foto aan die hand van die kommentaarfunksie kan benoem.

Tuesday 13 March 2012

1975-matrieks

Maart - Ian Smith, Rhodesiese eerste minister, en senior Ministers besoek Suid-Afrika vir 'n gesprek.
Maart - Die Arbeidersparty wen die tweede verkiesings vir die Kleurlinge se Verteenwoordigende Raad.
Maart - Die regering kondig aan dat dit die 113 afsonderlike tuislande konsolideer in 36 Bantoestans.
April - Nicolaas Johannes Diederichs word die vierde Staatspresident van Suid-Afrika.
Junie - Die Volksrepubliek van Mosambiek geskep.
Julie - Rabbit stel hul album Boys will be boys vry. Dit word tot op daardie datum die Suid-Afrikaanse langspeler wat in die kortste tyd goue status (25 000 albumverkope) bereik.
Oktober - Die Suid-Afrikaanse Weermag val Angola in Operasie Savannah binne.
November - Die Volksrepubliek van Angola geskep
November - Die Suid-Afrikaanse Vloot fregatte ontruim 26 SAW-personeel van agter die vyandelike linie by Ambrizete, 160 km noord van Luanda in Angola.
November - Die volgende Parkies begin met hul eindeksamen:








Die ander treffers, hierdie jaar, was volgens hierdie bron:

YOU AIN'T SEEN NOTHING YET - Bachman Turner Overdrive
FOX ON THE RUN - The Sweet
LOVE HURTS - Nazareth
AS SOON AS I HANG UP THE PHONE - Conway Twitty & Loretta Lynn
MILKY WAYS - Colombus
PALOMA BLANCA - George Baker Selection
STAND BY ME - John Lennon
S.O.S. - Abba
BARBADOS - Typically Tropical
PLEASE MR POSTMAN - The Carpenters
YOU ASKED ME TO - Bobby Angel
I DO I DO I DO I DO - Abba
SHE'S A WOMAN - Neil Herbert
LONGFELLOW SERENADE - Neil Diamond
LADY - Styx
LOVE WILL KEEP US TOGETHER - Captain & Tennille
I LOVE HOW YOU LOVE ME - Jonathan Butler
IF YOU THINK YOU KNOW HOW TO LOVE ME - Smokie
HEY YOU - Bachman Turner Overdrive
DON'T YOU KNOW - Della Reese

Monday 12 March 2012

Matrieks 1966

Ek belowe ek gaan hierdie nie chronologies doen nie. Ek het toevallig vanmiddag die eerste twee jare se name afgetas, bloot omdat ek wou sien of ek dit relatief maklik en vinnig sal kan doen.

Danksy die vriendelike inset van Rudel du Preez sal ek kyk of ek volgende by 1975 se name kan uitkom.

Die enigste rede waarom ek by 1965 begin het (naas nou die feit dat hulle die eerste matriekgroep was) is die feit dat ons so drie weke gelede vanuit Duitsland 'n navraag gehad het na wie die eerste Geskiedenisonderwyser daardie jare was.

Ek het selfs in die joernaal wat alle hoofde verplig is om by te hou, gaan loer, maar kon nie 'n antwoord kry nie. As iemand toevallig onthou wie die eerste Geskiedenis-onnie was, laat weet asseblief via die kommentaar-geleentheid wat onder aan die bloginskrywing voorsien is.

As taalonderwyser is 1966 se matrieks na aan my hart - tiende van bo staan die naam van Johannes Stephanus Bouwer, 'n digter van wie ek elke jaar 'n gedig saam met my leerders probeer ontsluit. Vanjaar het ons graad 11's weggeval met 'n gedig deur Danie Marais wat in die tagtigerjare hier by ons matrikuleer het. Toe kom Stephan Bouwer aan die beurt.

As enige ander Oud-Parkie skrywers, van welke aard ook al, jou met verloop van tyd byval, laat weet asseblief via die kommentaar-blokkie; ek weet daar is baie, meer as wat ek vermoed en ek wil dat ons volgende jaar  in Afrikaans heeltyd met Oud-Parkies se tekste werk, of dit nou in die letterkundeklas is, en of dit nou in die taal- en stilleesperiodes is.

Maar die 1966-matrieks is waaroor dit nou hier gaan:







1965 se 107 matrieks

Die boek waarin die matrikulante die einde van die jaar hul handtekeninge teenoor hul name plaas, sal net mooi volgende jaar sy laaste matrikulante se name neem; dan is hy ook vol.

Nie al die jare is daar nie, en dis ook maar van 1969 dat die handtekeninge bykom.








Hierdie jaar, 1965, dui ook aan of die kandidaat in die Eersteklas geslaag het en in watter vakke onderskeidings behaal is.

Ek het dit veiligheidshalwe afgesny - netnou is iemand baie sensitief en dan word ek oor die kole gehaal.

Die toppresteerders lig ek egter met vrymoedigheid uit. Soos wat dit in die boek aangeteken is, het Detlef Richard Rozesky sewe onderskeidings gehad, Noeline Gardiol de Villiers ses. Hierdie twee Parkies se prestasie is uitstaande as 'n mens in ag neem dat daar verder slegs een kandidaat met drie onderskeidings is, Molly Karin Scholtz, vier kandidate met twee onderskeidings en dan 'n verdere sewentien Parkies met een onderskeiding elk.



Rudel du Preez se kort terugblik op 1975


Rudel du Preez deel vandeesweek hierdie foto's  met ons en ek neem die vrymoedigheid om dit hier te plaas. Die versoek is daarom ook om nie te huiwer om stories en staaltjies en foto's te deel nie. Dis immers hoekom ons nie per e-pos kommunikeer nie, maar via die blog.


Atheners-dirigente - huissport 1975: 
Suna van Rensburg,Rudel du Preez,
Kobus du Plessis en Odette van Wyngaard

Interskole meisiedirigente:
Sulesda Nieuwoudt, Maudie van
Rensburg en Suna van Rensburg