Friday 30 March 2012

Die oudste en nuutse Eggo

Ek soek nou al lankal verskoning om die heel eerste twee voorwoorde ooit in die destydse Kwêvoël te pos. Ek het met die vorige inskrywing rondom die Eggo slegs by die redaktrise se openingswoord uitgekom. Maar toe uitgawe 1 van 2012 vanoggend op ons wag om uit te deel, toe het ek meer as verskoning, ek het sommer rede.

Daar lê dalk 49 jaar se tegnologiese voortuitgang tussen die twee publikasies, maar die harte en entoesiasme van ons leerders het in 49 jaar dieselfde gebly. Dieselfde lekker wat Gardiol- en Francois-hulle destyds uit hul baanbrekerswerk geput het, put Melissa en haar span vandag steeds.

(Melissa te voorwoord wat uit ons raam beweeg, irriteer my grensloos - maar die grootte net kleiner as wat hy nou is, maak die teks onleesbaar.)







Ek het die naam van Dinsdag 27 Maart gaan staan en verander. Ek het verkeerdelik gereken dat die Franse titel die nuuskierigheid sal prikkel en innooi - dit het toe nie. Ek vermoed dis net die oud-Parkies wat Frans het, wat daar gaan lees het, en toe miskien teleurgesteld was oor dit fokus op 'n rugbywedstryd tussen die meisies en die seuns van 1975. Gaan loer gerus, dit verklap vreeslik baie hart en siel om op trots te wees.

Thursday 29 March 2012

Hezkiël 2:13

As ons gisteraand referendum gehou het, dan het ons vandag nog met ‘n driekamer-parlement gesit en is die ANC nie ontban nie, dan is Nelson Mandela nooit vrygelaat nie, die sanksieveldtog versterk, het die burgerlike onrus omgesit in ‘n volwaardige burgeroorlog en weet ek nie waar was ons vandag nie.
Nie dat ons in die laat tagtigerjare van die vorige eeu met iets anders as ‘n burgeroorlog in ons land gesit het nie.
Maar dit daargelaat – die boodskap wat ek wil tuisbring is dat dit gegaan het soos party met van die ouervergaderings waar die volgende jaar se skoolfonds bespreek moet word: daar is meer onderwysergevrete as ouergesigte.
Dis asof ons gevra het dat almal wat in die verlede vir die Nasionale Party gestem het, asseblief hulle hande moet opsteek; met die oud-Parkies was dit gisteraand presies soos met die Natte – ons weet hulle was daar (49 jaar lank nou al), maar wat nóú, gisteraand, van hulle geword het, weet nugter.
En dis nie ek wat die politieke metafoor uit die tagtigerjare kies nie, dis eerder asof die metafoor hom aan my kom voorskryf, hom op my kom afdwing.
Ek het huis toe gegaan gisteraand en weer ‘n keer van vooraf aan bietjie meer probeer uitvind rondom Die Hoërskool Menlopark se verbintenis met Hezkiël 2:13.
Op ander plekke, soos in Insig van Maart 2006, is dit Hiskiël 2 vers 3:  “Naas die politiek van die hede en die verlede bly godsdiens ’n populêre tema vir muurkunstenaars wêreldwyd, selfs as daar bitter min respekvolle graffiti voorkom. Seker die mees profetiese woorde in Johannesburg is deur ’n onbekende kunstenaar in die omgewing van die SAUK geskryf. Dié skrywer ken beslis sy publiek en weet dat sekere mense nie graag iets sal aanvaar as dit nie in die Bybel staan nie. Daarom het hy sy eie Bybelteks geskep: Hiskiël 2 vers 3, wat lui: God weet, so kan dit nie aangaan nie. Menige mens het in die haastigheid hom al vergis en gedink dat Hiskiël werklik ’n Bybelboek is. Maar dit is definitief ’n opinie wat baie motoriste in hierdie dae van wêreldwye politieke onsekerheid en ekonomiese chaos sal beaam.”

Hierdie teksvers leef egter in die volksmond, of dit Hiskiel, Heskiel, Moses 6:6 of selfs, soos in Burger 2010-09-05, Titus 10:10 is; dit is selfs in die jongste uitgawe van George Claassen, Piet Muller en Morkel van Tonder se DIE GROOT AANHALINGSBOEK (Human & Rousseau) opgeneem.
Ek het die stoute skoene aangetrek om dit te google en die soekenjin het dit nie minder nie as 244 keer opgespoor.
Ek het met die aanhaling teen die muur by die SAUK waar jy regs draai RAU toe grootgeword. Dit het deel van my verwysingsraamwerk geword en ek onthou nog hoe teleurgesteld ek was, die dag toe ek daar verby ry en dit leef nie meer op die muur nie, slegs in ons gedagtes.
Die interessantste verwysing na die betrokke graffiti is en bly egter vir my die volgende uit ‘n skrywe rondom graffiti deur Charl Cornelissen wat by Litnet te lees is:
 
“Twee klassieke stukkies (graffiti) wat my bybly was die een op die muur teenoor die SABC wat gelees het: ‘Hezkiël 2:13: God weet, so kan dit nie aangaan nie!’ Dit was in die laat tagtigerjare en ek het nou onlangs eers uitgevind dat die outeur wyle Stefan Bouwer was.”

Is dit waar? Is dit apokrief? Is hierdie man se Stefan Bouwer ons Stephan Bouwer?


Wel wetend dat many a true word are spoken in jest, met ‘n tong in my kies en meer as net ‘n knippie sout tussen my vingers, hoop ek regtig dit is, want as dit is, dan is dit in 50 jaar Die Hoërskool Menlopark se grootste bydrae tot, en nalatenskap aan, Suid-Afrika.
Op ‘n ernstiger noot, behalwe die feit van ‘n teleurstellende opkoms, het dit duidelik geblyk dat die datum van die groot Parkie-fees so spoedig as moontlik bevestig moet word – die Parkies is kennelik lus vir kuier soos laas in 2003.
18:00 die aand op 8 Mei maak ons weer so – so teken dit aan.
Ander voorstelle wat aangeteken moet word is:
  • Vanuit die Alumni-kantoor en Hester Barnard se rekenaar moet ‘n skakelpersoon of verteenwoordiger vir elke jaar in plek kom.
  • Met talle Parkies wat van ver kom, so ver as die buiteland, sal dit gaaf wees om die informele kuiergeleentheid (onder die sterrehemel) en die formele dankie- en geluk-sê-geleentheid (onder kandelabers) nie maande uit mekaar te hou nie, maar baie, sommer baie, nader aan mekaar.
  • Ons moenie slegs op e-skakeling reken om die Parkies gemobiliseer te kry nie.
Juis om laasgenoemde rede is Dorette van der Westhuizen dan ook aangestel as ons Eeufees-mediaskalelpersoon.
Meer oor die komitees volg gedurende die vakansie. Dankie aan almal wat daar was. Ook aan diegene wat getrou verskoning aangeteken het.
Gisteraand het weer eens bewys dat die Parkies  nou al vir jare nie brieke ken nie - as ons gaan spoed optel, gaan min ons keer.

Terug na Stephan Bouwer. Hoewel hy onthou word vir sy liefdesgedigte, is dit miskien wel moontlik dat Charl Cornelissen na ons Stephan verwys. Ek dink nie ek verbeel my as ek iets van 'n politieke bewustheid ook in hierdie skoolgedig van hom raaklees nie.

En as iemand meer weet of kan bevestig wat Charl te kenne gee, sal ek bly wees.



Wednesday 28 March 2012

'n Outentieke eerstehandse, eersterangse brondokumente

Alle skoolvakke het die laaste klompie jare ingrypend verander; die meeste van almal, myns insiens, Geskiedenis.
Vir altyd verby die dae dat jy drie van die vyf hoofstukke kon spot, en so twee of drie langvrae uit jou kop kon leer.
Vandag sal enige iemand wat 20 of meer jaar gelede Geskiedenis geskryf het, skaars ‘n vraestel as vraestel herken.
Soos wat ons steeds in stillees/begripstoets ‘n leesteksie met ‘n klompie vrae kry, kry die geskiedeniskandidate deesdsae ‘n dikke bylaag van so veel as 20 bladsye. Dit is dan vol geskiedkundige “bronne” wat die leerders moet bestudeer, vergelyk, analiseer en tussen die lyne deur ook moet lees.
Ons enigste bronne was ‘n sporprent of ‘n kaart; vandag is dit toesprake, foto’s, tydskrifartikels, advertensies, brosjures, koerantberigte, noem maar op.
Daarom dat die ou goed waardeur ek gaan, vir my nie sommer net ou goed is nie, maar historiese tydsdokumente, brondokumente van 'n tyd en 'n tydsgees.
En ja. ‘n ou Eggo van 1967 kan ‘n lieflike bron wees, maar ek het amper vlugsout of ‘n ander vorm van lawement nodig gehad toe ek op vandag se hoogs ouentieke bronne afkom:  nie die Eggo nie, maar dit wat die redakteur/samesteller 45 jaar gelede saamgeflans drukkers toe gestuur het.
"Saamgeflans" gemeet aan wat 'n mens vandag alles moet bemeester alvorens daar aan 'n drukker se deur geklop kan word.
Deesdae sien jy natuurlik nooit die drukker nie, jy werk hoogstens met die ontwerper en daar is geen maar geen harde kopie van enige aard wat van hande wissel nie – alles word digitaal, óf per e-pos, óf aan die hand van die een of ander CD, DVD of eksterne hadeskyf gestuur.
En hier het ons die velle papier waarop die juffrou of meneer destyds die foto’s geplak het, ons het die name in sy of haar handskrif, ‘n oerbron, by wyse van spreke.
Hoeveel keer die laaste 45 jaar wou iemand dit nie dalk weggooi nie? Wie het trouens in 1967 besluit om dit te bêre (op te gaar)?
Sulke goed maak my opgewonde, maak my stil.
Die redakteur/samesteller/knip-en-spoeg-en-plakker was duidelik nie ‘n taalonderwyser nie – daar is ooglopende spelfoute. En dan kan ‘n mens nie eers sê, soos ek, dat dit ‘n tikfout is nie – die teks is met die hand geskryf, langs die foto op die folio, of agter die foto.
Die volgende foto trek my van die oomblik dat my oog daarop gelê het – die fokus waar dit hoort en gebrek aan fokus in die agtergrond werk lieflik. Dit was lank voor die hedendaagse mik-en-druk, jy moes kon foto's neem as jy foto's wou neem.
As die tegniese bestuur vandag ‘n baan sou merk soos hierdie een gemerk is, word die hele bestuur summier afgedank.
Die fiets en die motors vul die gebeure mooi in. Die motors sal nog TP-registrasienommer hê; die fiets sal nie oor ratte beskik nie en die kanse dat jy moes back pedal om te briek (of oor die gruis te gly tot jy val) is goed.
Die man het ‘n safaripak aan, en ek verbeel my selfs hy het ‘n hoed op (alhoewel my verbeelding dalk met my op hol gaan).
Maar dit maak nie saak hoe my gedagtes afdwaal nie – die oog beweeg elke keer terug na die fokus van die foto: Ursula (?) Wessels, SA-kampioen, en agter haar Aleta (?) de Beer.

En het die Wessels-meisie toe geval of nie - dis duidelik nie 'n krapmerk (soos oor die De Beer-dogter se been) nie; lyk vir my soos 'n los skoenveter








Vir my lieflik om nog 'n lint te sien wat gebreek word - ek het dit slegs op laerskool beleef.

Wie het opgemerk dat een van die items nog in treë gemeet is - die 100 treë meisies o/16.

Claudie van Straaten se foto hang in die saal. Een van haar rekords wat vir bykans 40 jaar gestaan het, is maar eers nou die ander dag deur 'n dogter verbeter.

Claudie het ons vereer deur by ons te kom tee drink en die leerders in die saal te ontmoet.

Dis darem maar lekker om 'n Parkie te wees.

Tuesday 27 March 2012

Daai game van 1975 tussen die seuns en die dogters

Dit was die Franse skrywer, Jean-Baptiste Alphonse Karr (November 24, 1808 – September 29, 1890) wat die wêreld in 1839 bekend gestel het aan "plus ça change, plus c'est la même chose"—"hoe meer dit verander, hoe meer bly dit dieselfde ding” (of soos dit meer algemeen vry vertaal word: “hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde”).



Daar lê 35 jaar tussen hierdie foto en die wat volg – vir party mense is dit ‘n hele leeftyd. En baie hét verander – die seuns speel nou netbal teen die meisies; seker ‘n goeie 20 jaar laas dat ek beleef het die geslagte meet op die rugbyveld kragte.
Maar of dit rugby is wat soveel verander het, of die manne, of miskien die meisies, sal ek nie weet nie. Duidelike argumente kan ten opsigte van al drie rolspelers ingebring word.
Maar dis nie ter sake nie, nie vandag nie. Wat dieselfde gebly het, is wat saak maak – die lekker, die oorgawe, die passie – die joie de vivre (as ons dan nou al met die Frans deurmekaar wil bly.)


Die belangrikste reël is:  bly uit ons hare uit.


Speel net die bal, Dames, nie die man nie


Is dit nou rugby, netbal, sokker of  Boeresport(s)


Wat noodhulp nie reg kry nie, moet 'n soentjie reg maak


Toe 'n drie nog vier getel het


Is dit nou spykerskoene of rugbytoks


Parkie-meisies-haka


First position... punt die tone


Omtrent 'n Barbarian-span


Monday 26 March 2012

Ek het al baie gewonder wanneer en waarom die tradisie rondom 'n gelukbringer vir 'n span of skool uitgesterf het.

Dink ek aan die wêreldbekerreekse en Olimpiese Spele, weet ons dit het beslis nie internasionaal uitgesterf nie.

Selfs van ons buurskole huldig steeds die gebruik (ongelukkig nie altyd met vreeslik baie styl nie, maar nogtans).

Ek kan my nie voorstel dat hierdie spanfoto volledig sou wees sonder daardie beer, wat beslis 'n naam sou gehad het, nie.







Hierdie gelukbringer het gaan saam toer Kaapstad toe. Ek is daarvan oortuig.

Maar eintlik is my gedagtes die afgelope naweek geensins by geskiedenis van die sestiger- en sewentigerjare gewees nie - my kop en hart was by die geskiedenis wat die skool hierdie naweek meegemaak het:  die langverwagte opening van ons eie astro-hokkiebaan.

En as die bloed in my are blou gevloei het, was dit Menlo-blou, Menlo-astro-blou, Menlo-astro-blou-én-rooi.

Van die jonge juffers hier bo, was darem Saterdag daar, en saam met haar baie, baie trotse oud-Parkies en oud-Parkie-hokkiespeelsters.

Sonder oud-Parkies sou ons trouens seker vir die volgende 10 jaar ook maar niks anders rondom 'n astro kon doen as om daaroor te droom nie.

Maar Saterdag kon van ons oud-Parkies selfs op die baan draf... en spoedig agterkom 'n mens is nie sommer weer 18 as jy reeds 'n klompie jare klaar het met skool nie.

Dit was 'n groot dag, nie net vir Menlo-hjokkie nie, maar vir Menlo in ngeheel. Vergeef my daarom as ek vir 'n oomblik die verlede agterlaat en op 2012 konsentreer:





Die volgende is uit die dag se amptelike program geneem:

Absolut Astro, Absolut Menlo!

Wat ‘n voorreg om die inlywing van Die Hoërskool Menlopark se  eie blou en rooi ABSOLUT ASTRO vandag te kan beleef! Die Astro kom van ver ... dit was die droom van Die Hoërskool Menlopark se Beheerliggaam en Hokkie-akademie vir die afgelope dekades.

Die Astro wat gelê is, is die heel nuutste tegnologie in die wêreld en so deel ons ook in die heerlike opwinding wat die  internasionale hokkiewêreld aan die praat het -  die 2012 Olimpiese Spele wat ook die blou-baan as triomf vir aanskoulike wêreldkwaliteit-hokkie daarstel!

Met die wêreldwye ontwikkeling van sport en beroepsmoontlikhede in sport, asook veranderende reëls en vereistes, moes  Die Hoërskool Menlopark, wat ‘n roemryke en dinamiese hokkiekultuur deur dekades opgebou het, tot die groot stap oorgegaan het om ‘n astro te laat bou. So was dit reeds vanaf 2011 ‘n nasionale vereiste dat alle skole se eerste spanne op astro hokkie moet speel; vanaf 2012 is dit verder uitgebrei deurdat alle ouderdomsgroepe se A-spanne ook op Astro moet  speel. Deur baie jare heen het baie ouers baie kilometers na verskeie astro’s in en om te stad gery om hulle kinders hokkie te sien speel – dit kan nou gedoen word op ons eie astro.

Wat ons besonder opgewonde maak,  is die voordele wat die ASTRO vir ons hokkiespelers bied. Hierdie spelers word die geleentheid gebied, nie net om toonaangewend te wees nie, maar ook mededingend te wees. Die optimale balbeheer vanweë die stabiele en digte veselsisteem en daarmee saam die hoë balspoed gaan die beste vaardighede uit ons seuns en dogters haal.

Om reeds  te kon deel  in  jarelange se fenominale  Menlo-hokkiespanne wat in Pretoria en Suid-Afrika jaar na jaar as wenners van die Noordvaal en Stadsbeker,  sy merk maak, maak ons trots. Om ons hokkiespanne die geleentheid te kan  gee om op die voorste ontwikkeling in hokkie ter wêreld, te kan ontwikkel, is ‘n voorreg, maar om deel te kan wees van ‘n skool wat ook vir sy leerders geleenthede bied met fasiliteite soos muurbalbane, 50m olimpiese standaard swembad, spreiligte op alle sportvelde, top atletiekbaan en rugbyveld, binnemuurse krieketnette en splinternuwe netbalbaan is prysloos!

Baie mense en groepe het deur jare gedroom, beplan en herbeplan vir ‘n astro – te veel om op te noem, maar ‘n mens kan nie die ongelooflike rol en bydrae van Atterbury Properties en mnr Louis van der Watt, asook ons BL onder voorsitterskap van mnr Anton Verster miskyk nie! Dankie vir julle finale hupstoot wat hierdie droom vandag laat realiseer.
Geniet saam met ons die inwyding van nog ‘n mylpaal vir ons skool en Menlo-sport! Wees saam met ons trots en opgewonde oor die toekomspad van ons skool!

EXCELSA PETAMUS! ABSOLUT ASTRO!



Die onderskeie sportsoorte het die volgende gelukwensinge en boodskappe gedeel:

ATLETIEK

Beste Hokkie / Shaun

Mag die astro en al die plesier wat saam met dit gaan, nie net vir hokkie 'n aanwins wees nie, maar ook vir elke ander fasset van die skool. Atletiek en atlete weet dat julle wins ook ons wins is.



 
 TENNIS

Aan Dr. Van der Merwe, Shaun Hulley en sy hokkie-komitee:

Baie dankie vir die nastreef van ‘n jarelange droom wat nou tot voordeel van Die Hoërskool Menlopark verwesenlik is,. Absolut Tennis wens u geluk met hierdie ongelooflike fasiliteit en is saam met julle baie opgewonde! Mag die VOORREG om deel hiervan te wees, elke hokkiespeler aanspoor om sy potensiaal ten volle te ontwikkel, ten einde Menlo Hokkie ASTRO groot te bou!




RUGBY

- Dit is 'n droom waarna ons almal uitgesien het. Geluk aan die hokkie en sterkte vorentoe, ek glo en vertrou dat Menlo net sal baat vind by die mooi astro en dat dit vir enige hokkieleerling wat hierop speel net ‘n plesier sal bly.



SWEM EN KOSHUIS

Beste Shaun en Menlo-Hokkie

Om die hoogste na te streef moet mens met niks minder nie as die ABSOLUT beste tevrede wees. 

Ons weet dat Menlo-Hokkie nog altyd net die ABSOLUT beste lewer en na streef en ons weet dat ons van nou af na ABSOLUT ASTROnomiese prestasies kan uitsien. 
Baie geluk met die astro en beste wense vir ‘n puik seisoen en toekoms.
Excelsa Petamus


KRIEKET
H/s Menlopark en Menlo Hokkie,

Dié is om ons gelukwense aan jou oor te dra met die lang verwagte geskenk wat jy ontvang vandag. Jou onophoudende dryfkrag om te streef na “ABSOLUT” het vandag in jou skoot geval. Die hele gemeenskap, skool en ondersteuners gin jou die voorreg want almal is getuies van die baanbrekerswerk wat in die fondasie van hierdie eksklusiewe geskenk gegraveer is.

Shaun, you have been working on this dream for the last vife years and proved that if people want to bring about the necessary change they can do so. We, the supporters of the later generations understand the innovation and change needed to create the best opportunities. You my friend have just changed the future of hockey at Menlopark.

Ons wense is dat almal insperasie sal vind uit vandag se prestasie en dit is Excelsa Petamus – Streef na die hoogste

Menlo Krieket wens julle geluk!


KLEINER SPORTE

Namens swem, muurbal, fietsry, perdesport, gholf en waterpolo baie geluk met die nuwe astro. Ons hoop dat hokkie se drome verder vlerke kry met die nuwe baan…..


KOOR

Namens die koor baie geluk aan Mnr. Shaun en al die hokkie manne en vroue  met die Absolut Blou Astro baan.  Mag dit julle tot nog groter hoogtes aanspoor! Maak ons trots! Juf Jeanmari en die Menlo-engele


NETBAL
Dr van der Merwe en Shaun – iemand het op ‘n keer gesê: “Nothing stops the man who desires to achieve. Every obstacle is simply a course to develop his achievement muscle. It's a strengthening of his powers of accomplishment.” Baie geluk met ‘n major achievement!!! Beste wense Netbalspelers.




Sunday 25 March 2012

Tentatiewe los gedagtes rondom die feesjaar

Hierdie dan nou met die oog op eerskomende Woensdag se vergadering om 18:00 by die skool.

Dit lyk op die oomblik of ons drie groot verjaarsdagpartytjies gaan hê, drie groot verjaarsdagpartytjies waarvan ons self eersdaags die prentjies sal moet begin skep:


  1. Opelugfees op die rugbyveld soortgelyk aan 2003 maar ook heeltemal anders met tien jaar meer ondervinding
  2. Formele binnenshuise dinee met 50 jaar se laureati, hoë bome, vet bome, bome met lang penwortels, bome met dik bywortels en ondersteundende ouers
  3. ‘n Gesellige koek en tee (of strakkies jolige opskop) met 50 jaar se onderwysers
  4. Verjaarsdagkersies sal op kleiner skaal ook deur die loop van die jaar deur die verskillende sportsoorte en kultuurbedrywighede aangesteek word.
    Dit gaan hier om die huldiging van oudspelers en –deelnemers op sekere sportfeesdae. Elke sportsoort kies sy eie dag en datum, ook die vorm wat die geleentheid gaan aanneem.
Die outjies wat weer skool toe kom, wil darem nie met leë hande huis toe gaan nie; daar moet iets vir die boekrak en die display cabinet ook wees:


  1. ‘n Gedenkreeks van vyf wyne met spesiale feesjaaretikette
    (Ek droom ook van ‘n reeks van 5 koffiebekers wat elkeen ‘n dekade in die skool se bestaan, natuurlik in die kenmerkende styl van die dekade, uitbeeld:  60’s, 70’s, 80’s, 90’s en Millenniums.)
  2. ‘n Gedenkblad wat in faksimileeformaat uit 49 jaar se Kwêvoëls en Eggo’s die halfeeu wat die skool oud is, gedenk.
  3. Die laaste 50 jaar het ons darem ook van Kook en Geniet bevry en het ons die pad met Huisgenoot se Wenresepte, Watertand Wenners en Knuppeldik aan Koningskos gestap tot waar ons vandag is:  in die tou by Woolworths se Woolies Foods (of in die motor by die Drive-Thru). Dit kan nie – hier in die beginjare het pannekoek en kerrie en rys help bou aan bykans elke skool, sy paviljoen of sy saal. Hoe kan ons dan nou 50 jaar in die herinnering roep, as dit nie aan die hand van ‘n retro-kookboek wat op ‘n 21ste-eeuse wyse aangebied word nie!
  4. Terwyl ons nou met die drukkers en uitgewers loop foeter, waarom nie insette en staaltjies uit 50 jaar se penne ook vrystel om aan te herkou nie. Ons praat hier nie van ‘n bundel saamgestel uit die insette wat aangestuur word na die blog nie, dis dan klaar gepubliseer, ons praat hier van ‘n selfstandige bundel stories, gedigte, herinneringe en onthou – nie noodwendig eers rondom die tema van die skool nie, suiwer uit die pen van oudleerders en leerders.
Dan het die wat met die balle en stokke deurmekaar was nou al lekker gekry op die onderskeie sportfeesdae, maar wat van die musieklikes en kunssinniges onder 50 lieflike oesjare?


  1. Natuurlik gaan daar ‘n retrospektiewe kunsuitstalling iewers wees, nie noodwendig in die skoolsaal nie, maar strakkies ‘n ander venue rondom die skool. Ons sit hoeka nou met meer as een teater op ons voordeur.
  2. Die gedagte is om van ons oud-Parkie uitvoerende kunstenaars deur die loop van die jaar in die omgewing te kry en dan ‘n kunsuitstalling met een van die konserte te laat oorvleuel.
    Hierdie konserte neig natuurlik na iets wat herinner aan deur-die-oud-Parkies-vir-die-ou-Parkies.
Maar ons huidige leerders wil ook fees vier en Parkietrots bou.
Dis hoekom ons die sportfigure nie eenkant alleen iewers een aand in ‘n saal bymekaar wil kry nie, maar tussen ons leerders op dae wat ons leerders met die stokke en balle en talente woeker.
  1. Ons voorsien daarom ook ‘n massa-kitskoor op die aand van ons jaarlikse koorfees. Die oggend van die fees ontmoet die oudkoorlede iewers en studeer iets in. Maklik sal dit nie wees nie, maar, o, so lekker.
  2. Die uitvoerende komponente van 2013 se Menlovaria gaan straks in die gees van die feesjaar eenmalig ‘n beperking geniet:  ons bly by oud-Parkies in wat ons op- of uitvoer.
  3. Die drama-akademie gaan pa-staan vir ‘n vertolkingsprogram saamgestel uit tekste deur oud-Parkies.  Maar miskien wil van ons oud-Parkies self so huldigingsgeleentheid op die been bring. Sommer aan huis van iemand.
    Die idee is nie om die Staatsteater ‘n week lank vol te kry nie, maar om deur die loop van die jaar meer as een kleiner geleentheid te hê waar intiemer gehuldig en gedenk kan word.
  4. Die skool het die afgelope paar jaar ook vier geleenthede waarop die Verrykingsakademie ‘n gasspreker ontvang. Ouers en leerders ontmoet in die ouditorium (wat die meeste van ons as die gimnasium leer ken het) en word verryk. In 2013 gaan ons beslis nie toelaat dat ‘n Affie of Klofie ons kom toespreek nie – dit sal oud-Parkies wat kom kuier.
  5. En dan hoef hulle ook nie net op Verrykingsakademie-aande te kom kuier nie – ons het in die skooljaar talle ander geleenthede (benewens self net Maandagoggende se saalopeninge) waar die huidige geslag met oud-Parkies een kan word.


Ai, en dan is daar nog die Triomfboog, die Gedenknaald, die Erekoepel, die Tempelpoort (so amper praat ek vir hoogdrawende effek van Sarkofagus en Mausuleum ook), overgesetsynde die iets wat op die skoolterrein agter moet bly om ons oor 50 jaar van nou daaraan te herinner dat ons ‘n vreeslike lekker tyd in 2013 gehad het.
Hieroor is nog bittermin gedagtes gewissel – ons wil partytjie hou, ons wil nie geld insamel nie; ons soek die oud-Parkies en nie hul geld nie. So hiervoor gaan begroot moet word.
  1. Maar knoop ‘n beeld of gedenkmuur of iets soortgelyks in die oor – dis onvermydelik dat dit iewers ter tafel gaan kom.
Die skool is egter drie keer so besig as wat hy was toe ek so min as 12 jaar gelede hier aangekom het; ook net onderwysers wat weet hoe druk ‘n onderwyser se program by ‘n voorste skool soos Die Hoërskool Menlopark is.
  1. Alleen en op ons eie, kan ons hoogstens ‘n potjiekompetisie op die rubyveld reël – en dit tien teen een op ‘n aand wat die hele storie gaan uitreën en ons dan maar eerder almal gaan fliek.
Daarom dan ook dat ons die hande uitsteek op die wyse dat ons dit uitsteek.

Ons skool sal saamstaan
gekleed in wit en blou.
Ons bou saam en werk saam
in trots en in trou.
In wen of verloor
dra die Parkies hul spoor
en streef ons die hoogste na.
Menlo, ons sal jou altyd onthou.
Die tyd gaan verby,
in ons harte sal jy bly;
'n Anker vir jou en vir my.