Thursday 26 April 2012

Hierdie week 45 jaar gelede

Ek is weliswaar ‘n dag of wat uit, maar darem nie ‘n hele week nie.
Ek kan nie onthou wanneer ons die laaste bivak met kadette in Suid-Afrika gehad het nie – as onderwyser wat lief is vir wegbreek en om dinge so bietjie te “rough” was die bivakke ‘n jaarlikse hoogtepunt.
Op skool het ek dit egter nie geken nie, miskien was daar, maar net vir die uitgeleses – en dan is ek as kadet regtig nie uitgeknip gewees om op ‘n bivak te gaan nie.
Toe ek in 1989 my onderwysloopbaan begin, was bivakke vir al die seuns die gebruik.
Ek verbeel my ons het na die demokratisering wat 1994 gekom het, nog ‘n jaar of wat bivak gehou, maar toe is dit ook verby.
En toe was die nuwe hoof in die moeilikheid, toe hulle die skyfskietgewere kom terugtrek en die gewere is nie in die kluis nie – dis weg. Dit was so hittete of hy is in boeie uit sy kantoor weggelei.
Te oordeel aan die foto’s op Skurweberg, was ‘n bivak in daardie jare nog wat ‘n bivak volgens die woordeboek is – ‘n militêre tentekamp in die veld. Ek glo die seuns het daardie tente self opgeslaan.
In 1989 is die seuns in bungalows ingejaag.
Ek hoop die foto’s krap herinneringe in iemand oop wat lankal sy of haar Eggo van daardie jaar weggegooi het.
En kan iemand my sê of die Tweede Luitenant A.S. Theron dieselfde meneer Adolf Theron is wat ek as hoof van die Kuns Musiek en Balletskool (later met die handelskool saamgesmel onder die naam Pro Arte Alphen Park) leer ken het? Ek verbeel my iemand het laat val dat die man hier by ons Wiskunde of so iets gegee het.
En dan wonder ek wat het met die –S gebeur by die Studente-offisiere se byskrifte? Kyk mooi, die laaste twee of wat –s’e is missing in action.







1 comment:

  1. Einste Adolf Theron - hy was wiskunde onderwyser!

    ReplyDelete