Friday 15 June 2012

20 Februarie 1971 (2)

Noem my maar 'n sot, maar ek is een van daardie mense wat 'n heerlike trip down memory lane neem as ek met advertensies uit my kinderdae konfronteer word.

Het ek in die Menlopark-omgewing groot geword, sou die volgende advertensies uit die atletiekprogram van 20 Februarie 1971 my met nostalgie en herinnering gevul het.

Miskien is daar nog 'n sot soos ek wat op lieflike paaie sal gaan stap, word hulle daarmee konfronteer. Ter wille van daardie een of twee plaas ek dan maar die advertensies ook.

En as die advertensies nie jou kos is nie, ek pos ook die itemlys sodat ander weer kan sien watter name en wedlope hulle onthou.

En as iemand dan nog gewonder het waar ek aan die program kom, is dit nou duidelik. Constantia Uitrusters is steeds die verskaffer van ons skooldrag.

Die hebbelikheid van die sewentigs om alles wat met hoofletters gespel moet word, met kleinletters te spel, is duidelik in hierdie advertensie. Maar wat wil meer 70's wees as die eye love-wimpers. En dit teen die absoluut bekostigbare prys van R1-95!


Het "buiteverbruik" eers jare later "buiteverkope" geword, of was "buiteverbruik" maar net 'n pretensieuse woord om te gebruik. En dan wonder ek watter koopverenigings daar alles in 1971 was.



Ons het vandag nog 'n Elsa's Pannekoek net om die draai van ons. Maar daardie Elsa kan onmoontlik hierdie Elsa wees. Soos ek dit het, het ons Pannekoek-Elsa 'n klompie jare gelede hier by ons skoolgehou.

No comments:

Post a Comment