Thursday 29 March 2012

Hezkiël 2:13

As ons gisteraand referendum gehou het, dan het ons vandag nog met ‘n driekamer-parlement gesit en is die ANC nie ontban nie, dan is Nelson Mandela nooit vrygelaat nie, die sanksieveldtog versterk, het die burgerlike onrus omgesit in ‘n volwaardige burgeroorlog en weet ek nie waar was ons vandag nie.
Nie dat ons in die laat tagtigerjare van die vorige eeu met iets anders as ‘n burgeroorlog in ons land gesit het nie.
Maar dit daargelaat – die boodskap wat ek wil tuisbring is dat dit gegaan het soos party met van die ouervergaderings waar die volgende jaar se skoolfonds bespreek moet word: daar is meer onderwysergevrete as ouergesigte.
Dis asof ons gevra het dat almal wat in die verlede vir die Nasionale Party gestem het, asseblief hulle hande moet opsteek; met die oud-Parkies was dit gisteraand presies soos met die Natte – ons weet hulle was daar (49 jaar lank nou al), maar wat nóú, gisteraand, van hulle geword het, weet nugter.
En dis nie ek wat die politieke metafoor uit die tagtigerjare kies nie, dis eerder asof die metafoor hom aan my kom voorskryf, hom op my kom afdwing.
Ek het huis toe gegaan gisteraand en weer ‘n keer van vooraf aan bietjie meer probeer uitvind rondom Die Hoërskool Menlopark se verbintenis met Hezkiël 2:13.
Op ander plekke, soos in Insig van Maart 2006, is dit Hiskiël 2 vers 3:  “Naas die politiek van die hede en die verlede bly godsdiens ’n populêre tema vir muurkunstenaars wêreldwyd, selfs as daar bitter min respekvolle graffiti voorkom. Seker die mees profetiese woorde in Johannesburg is deur ’n onbekende kunstenaar in die omgewing van die SAUK geskryf. Dié skrywer ken beslis sy publiek en weet dat sekere mense nie graag iets sal aanvaar as dit nie in die Bybel staan nie. Daarom het hy sy eie Bybelteks geskep: Hiskiël 2 vers 3, wat lui: God weet, so kan dit nie aangaan nie. Menige mens het in die haastigheid hom al vergis en gedink dat Hiskiël werklik ’n Bybelboek is. Maar dit is definitief ’n opinie wat baie motoriste in hierdie dae van wêreldwye politieke onsekerheid en ekonomiese chaos sal beaam.”

Hierdie teksvers leef egter in die volksmond, of dit Hiskiel, Heskiel, Moses 6:6 of selfs, soos in Burger 2010-09-05, Titus 10:10 is; dit is selfs in die jongste uitgawe van George Claassen, Piet Muller en Morkel van Tonder se DIE GROOT AANHALINGSBOEK (Human & Rousseau) opgeneem.
Ek het die stoute skoene aangetrek om dit te google en die soekenjin het dit nie minder nie as 244 keer opgespoor.
Ek het met die aanhaling teen die muur by die SAUK waar jy regs draai RAU toe grootgeword. Dit het deel van my verwysingsraamwerk geword en ek onthou nog hoe teleurgesteld ek was, die dag toe ek daar verby ry en dit leef nie meer op die muur nie, slegs in ons gedagtes.
Die interessantste verwysing na die betrokke graffiti is en bly egter vir my die volgende uit ‘n skrywe rondom graffiti deur Charl Cornelissen wat by Litnet te lees is:
 
“Twee klassieke stukkies (graffiti) wat my bybly was die een op die muur teenoor die SABC wat gelees het: ‘Hezkiël 2:13: God weet, so kan dit nie aangaan nie!’ Dit was in die laat tagtigerjare en ek het nou onlangs eers uitgevind dat die outeur wyle Stefan Bouwer was.”

Is dit waar? Is dit apokrief? Is hierdie man se Stefan Bouwer ons Stephan Bouwer?


Wel wetend dat many a true word are spoken in jest, met ‘n tong in my kies en meer as net ‘n knippie sout tussen my vingers, hoop ek regtig dit is, want as dit is, dan is dit in 50 jaar Die Hoërskool Menlopark se grootste bydrae tot, en nalatenskap aan, Suid-Afrika.
Op ‘n ernstiger noot, behalwe die feit van ‘n teleurstellende opkoms, het dit duidelik geblyk dat die datum van die groot Parkie-fees so spoedig as moontlik bevestig moet word – die Parkies is kennelik lus vir kuier soos laas in 2003.
18:00 die aand op 8 Mei maak ons weer so – so teken dit aan.
Ander voorstelle wat aangeteken moet word is:
  • Vanuit die Alumni-kantoor en Hester Barnard se rekenaar moet ‘n skakelpersoon of verteenwoordiger vir elke jaar in plek kom.
  • Met talle Parkies wat van ver kom, so ver as die buiteland, sal dit gaaf wees om die informele kuiergeleentheid (onder die sterrehemel) en die formele dankie- en geluk-sê-geleentheid (onder kandelabers) nie maande uit mekaar te hou nie, maar baie, sommer baie, nader aan mekaar.
  • Ons moenie slegs op e-skakeling reken om die Parkies gemobiliseer te kry nie.
Juis om laasgenoemde rede is Dorette van der Westhuizen dan ook aangestel as ons Eeufees-mediaskalelpersoon.
Meer oor die komitees volg gedurende die vakansie. Dankie aan almal wat daar was. Ook aan diegene wat getrou verskoning aangeteken het.
Gisteraand het weer eens bewys dat die Parkies  nou al vir jare nie brieke ken nie - as ons gaan spoed optel, gaan min ons keer.

Terug na Stephan Bouwer. Hoewel hy onthou word vir sy liefdesgedigte, is dit miskien wel moontlik dat Charl Cornelissen na ons Stephan verwys. Ek dink nie ek verbeel my as ek iets van 'n politieke bewustheid ook in hierdie skoolgedig van hom raaklees nie.

En as iemand meer weet of kan bevestig wat Charl te kenne gee, sal ek bly wees.



No comments:

Post a Comment