Wednesday 28 March 2012

'n Outentieke eerstehandse, eersterangse brondokumente

Alle skoolvakke het die laaste klompie jare ingrypend verander; die meeste van almal, myns insiens, Geskiedenis.
Vir altyd verby die dae dat jy drie van die vyf hoofstukke kon spot, en so twee of drie langvrae uit jou kop kon leer.
Vandag sal enige iemand wat 20 of meer jaar gelede Geskiedenis geskryf het, skaars ‘n vraestel as vraestel herken.
Soos wat ons steeds in stillees/begripstoets ‘n leesteksie met ‘n klompie vrae kry, kry die geskiedeniskandidate deesdsae ‘n dikke bylaag van so veel as 20 bladsye. Dit is dan vol geskiedkundige “bronne” wat die leerders moet bestudeer, vergelyk, analiseer en tussen die lyne deur ook moet lees.
Ons enigste bronne was ‘n sporprent of ‘n kaart; vandag is dit toesprake, foto’s, tydskrifartikels, advertensies, brosjures, koerantberigte, noem maar op.
Daarom dat die ou goed waardeur ek gaan, vir my nie sommer net ou goed is nie, maar historiese tydsdokumente, brondokumente van 'n tyd en 'n tydsgees.
En ja. ‘n ou Eggo van 1967 kan ‘n lieflike bron wees, maar ek het amper vlugsout of ‘n ander vorm van lawement nodig gehad toe ek op vandag se hoogs ouentieke bronne afkom:  nie die Eggo nie, maar dit wat die redakteur/samesteller 45 jaar gelede saamgeflans drukkers toe gestuur het.
"Saamgeflans" gemeet aan wat 'n mens vandag alles moet bemeester alvorens daar aan 'n drukker se deur geklop kan word.
Deesdae sien jy natuurlik nooit die drukker nie, jy werk hoogstens met die ontwerper en daar is geen maar geen harde kopie van enige aard wat van hande wissel nie – alles word digitaal, óf per e-pos, óf aan die hand van die een of ander CD, DVD of eksterne hadeskyf gestuur.
En hier het ons die velle papier waarop die juffrou of meneer destyds die foto’s geplak het, ons het die name in sy of haar handskrif, ‘n oerbron, by wyse van spreke.
Hoeveel keer die laaste 45 jaar wou iemand dit nie dalk weggooi nie? Wie het trouens in 1967 besluit om dit te bêre (op te gaar)?
Sulke goed maak my opgewonde, maak my stil.
Die redakteur/samesteller/knip-en-spoeg-en-plakker was duidelik nie ‘n taalonderwyser nie – daar is ooglopende spelfoute. En dan kan ‘n mens nie eers sê, soos ek, dat dit ‘n tikfout is nie – die teks is met die hand geskryf, langs die foto op die folio, of agter die foto.
Die volgende foto trek my van die oomblik dat my oog daarop gelê het – die fokus waar dit hoort en gebrek aan fokus in die agtergrond werk lieflik. Dit was lank voor die hedendaagse mik-en-druk, jy moes kon foto's neem as jy foto's wou neem.
As die tegniese bestuur vandag ‘n baan sou merk soos hierdie een gemerk is, word die hele bestuur summier afgedank.
Die fiets en die motors vul die gebeure mooi in. Die motors sal nog TP-registrasienommer hê; die fiets sal nie oor ratte beskik nie en die kanse dat jy moes back pedal om te briek (of oor die gruis te gly tot jy val) is goed.
Die man het ‘n safaripak aan, en ek verbeel my selfs hy het ‘n hoed op (alhoewel my verbeelding dalk met my op hol gaan).
Maar dit maak nie saak hoe my gedagtes afdwaal nie – die oog beweeg elke keer terug na die fokus van die foto: Ursula (?) Wessels, SA-kampioen, en agter haar Aleta (?) de Beer.

En het die Wessels-meisie toe geval of nie - dis duidelik nie 'n krapmerk (soos oor die De Beer-dogter se been) nie; lyk vir my soos 'n los skoenveter








Vir my lieflik om nog 'n lint te sien wat gebreek word - ek het dit slegs op laerskool beleef.

Wie het opgemerk dat een van die items nog in treë gemeet is - die 100 treë meisies o/16.

Claudie van Straaten se foto hang in die saal. Een van haar rekords wat vir bykans 40 jaar gestaan het, is maar eers nou die ander dag deur 'n dogter verbeter.

Claudie het ons vereer deur by ons te kom tee drink en die leerders in die saal te ontmoet.

Dis darem maar lekker om 'n Parkie te wees.

No comments:

Post a Comment