Wednesday 11 April 2012

Muntlegging waaroor jare later nog gepraat word


Ek kry die volgende e-pos knap voor die pasafgelope langnaweek wat volgens die onderwysdepartement kwansuis ‘n vakansie was:

Na aanleiding van jou opmerkings oor grafifiti, het jy al afgekom op enige verwysings na ROEP (Revolusionêre Organisasie vir die Eliminasie van Prefekte)wat in 1969 onder Parkies aktief was?
As ek reg onthou was dit 'n geheime groep St. 9's.
Een van hulle hoogtepunte (?) was toe hulle die verfwerk vir 'n muntleging oornag tot groot ontsteltenis van Mnre van Zyl (hoof) en Booysen (onderhoof van "RSA" na "ROEP" )verander het.
Die hele okkasie is toeop hou gesit terwyl die prefekte gepoog het om Republiek-dag te red deur om van die nuwe kunswerk ontslae te raak en die oue terug te kry!
Frans Mohr
1969 Matrieks
Toevallig het ek op ons eerste vergadering verlede kwartaal, vir die eerste keer van ROEP gehoor – weliswaar nie veel meer as wat Frans met ons te deel het nie.
Maar ek is vreeslik opgewonde oor sy e-pos, want dit is presies my droom met hierdie blog – dit moet deur Oud-Parkies, vir Oud-Parkies voorsien word van lekker brokkies en soet herinneringe.
Ek het Menlopark as onderwyser in 2000 leer ken. Ek kan hoogstens in boeke rondkrap en hier kom spoeg en plak; ek weet van Parkies onder die son niks, en my perspektief is die van ‘n onderwyser en nie ‘n oudleerling nie – daarom dat ek opgewonde is oor Frans se e-pos.
Frans, baie dankie – jy het my dag gemaak!
En toe gaan staan en breek my rekenaar die vakansie en kon ek dit nie tóé al plaas nie.
Maar ons is terug by die skool;dis ‘n nagmerrie tot die punte in is, maar ek glo ek sal, met samwerking van die oud-Parkies, weer die kuierblog op dreef kan kry.
Om Frans se vraag te beantwoord:  Ja, ek het al van ROEP gehoor, maar weet niks. Ek sien halsreikend daarna uit om meer daarvan te hore te kom.
Dat die insident ‘n diepe indruk moes gemaak het is duidelik – vandat ek hier is het ons nog nooit juis ‘n formidabele muntlegging gehou nie. Deesdae pak ons blikkieskos in die vierkant uit of stuur sommer die komberse en dinge wat vir liefdadigheid ingesamel word, reguit stoor (klas?) toe. Vandaar die foto’s (en ek wat wonder wie herken die klas hier bo en die skelette wat daar staan).

No comments:

Post a Comment