Saturday 17 March 2012

29 Januarie 1963 (1)

Nie net Die Menloparkse Hoërskool / Die Hoërskool Menlopark is amper 50 jaar ouer nie; Suid-Afrika het ook bykans 'n volle 50 jaar aangestap.

Die woorde van die adjunk-direkteur van onderwys (eers maar sedert 1991 dat ons dit sonder ‘n koppelteken, vas, as adjunkdirekteur spel) mnr. A J Koen, tydens die amptelike opening van die skool op 29 Januarie 1963, sal vandag uiteenlopende reaksies ontlok, selfs verskillende reaksies binne dieselfde leser se gemoed oopkrap.

In die bietjie minder as ‘n week dat ek doelbewus in my afperiodes by die skool in die verlede gaan krap, is ek al op meer as geleentheid aan die openingswoorde van  een van L P Hartley se romans herinner:  “Die verlede is vreemde plek:  hulle doen dinge anders daar.”

Soms is dit ‘n haarstyl wat my daaraan herinner, ander kere ‘n metafoor of beeld wat iemand gebruik. In hierdie teks van vandag val die ligbaken-metafoor my byvoorbeeld op. Maar dis in 2012, nie 1963, twee jaar na Republiekwording, nie. Daar lê sowat 50 jaar tussen  die Afrikaner van destyds en die een van vandag.

Met die dat ek eers einde 1963, vroeg 1964, in my ma se baarmoeder geanker is, is sommige verwysings in mnr. Koen se openingsrede aan my totaal onbekend.

Wat sou die “waaksaamheidskomitees” waarna hy verwys, byvoorbeeld wees. Selfs die huidige geskiedenisonderwyser by die skool, en ‘n man ook maar my ouderdom, kan hoogstens intelligent bespiegel, vermoed en raai.

As iemand kan help, sal dit vir die meeste van ons baie interessant en leersaam wees.



No comments:

Post a Comment