Sunday 18 March 2012

29 Januarie 1963 (2)

Dit wil voorkom of die volgende dokument die seremoniemeester, vermoedelik die hoof, se toespraak is tydens die oggend van 29 Januarie 1963.
Ds. Du Toit, mnr. Koen en dr. Marais word onderskeidelik aan die woord gestel.
Hier is weer verwysings na die waaksaamheidskomitee en die persoon aan die woord maak by herhaling melding van ‘n gevoel van veiligheid.
As volslae leek en buitestaander wat betref eerstehandse ervaring van die tydsgees in die beginjare 60 in Suid-Afrika, en in besonder ooste van die hoofstad, Pretoria, begin ek die idee kry dat daar in die naam van hierdie komitee eerder sprake van ‘n geestelike waaksaamheid is, as waaksaamheid teen bomaanvalle en stedelike terreur is.
Ek wat in die vroeë tagtigerjare matriek geskryf het, is grootgemaak met ‘n sterk bewussyn van stedelike terreur en die rooi en swart gevare wat al wat wit is in die gesig gestaar het. Hier het die waaksaamheidskomitees die spreker bewus gemaak van die ouergemeenskap se behoefte in die kortsmoontlike tyd die agterstand ten opsigte van bestaande hoërskole in te haal.
Miskien daarom dat die waaksaamheidskomitee eerder op ‘n geestelike as fisiese weerbaarheid ingestel was.
Ek versoek weer, soos gister, dat enige iemand wat lig op die saak kan werp vir ons ‘n ligbaken (en dan gaan haal ek die metafoor by mnr. Koen se toespraak van gister) in die donker kan wees.
Ons het hier drie vanne van lede op die komitee:  dr. Marais (voorsitter), dr. Kloppers (ondervoorsitter) en mev. Le Roux (sekretaresse).
Daar is ‘n Martin Beyers en Martha Aletta le Roux onder die 1965-matrieks, ook ‘n Phillipus Johannes Kloppers, maar geen Marais nie. Miskien is hierdie oud-Parkies ‘n vertrekpunt, ek weet nie.





No comments:

Post a Comment