Thursday 22 March 2012

Die onnies en hul dinge

Te heerlik vir my hierdie kant om terugvoer rondom die onnies en uitskieters op die verskillende gebiede te ontvang en te laai.

Die idee om hierdie blog te begin kom onder andere ook van die volgende skrywe wat ons 22 Februarie ontvang het:

Geagte Skoolhoof en Personeel,

Wat ’n verrassing om my Alma Mater hier op die internet raak te loop, en om te sien dat julle nog steeds die nommer een in Pretoria is.

Nog dieselfde wapen, dieselfde skoollied, dieselfde adres. Net die Onnies het verander.

Verstaanbaar, as mens dink dat ek ook nie meer heeltemal dieselfde is as destyds nie.

Maar ek is seker vandag se Onnies is nog net so goed, streng en voorbeeldig as destyds.

Ek was van die heel eerste skoliere wat in Menlopark gematrikuleer het. Die skool is in 1963 gestig, vir standerd 6 tot standerd 8. Dus vir drie jaar na mekaar was ons 1963-ers die seniors, en kon ons ons wat verbeel oor ons status in die skool. Maar dit het ook gelei tot ʼn baie eng en besondere genootskap tussen ons en ons onderwysers/esse.

Van hier waar ons tans woon het ek onlangs (ten minste in my gedagtes) op ʼn nostalgievaart gegaan, en verskeie kort sketse geskryf oor die “goeie ou dae”, waarvan een handel oor my hoërskooldae. Tot my ergernis ontdek ek toe dat ek nie meer die naam van my Geskiedenisonderwyser kan onthou nie.

Hy is een van die mees besondere onderwysers, wat nog steeds in my onderbewussyn rondsluip en ʼn ogie oor my doen en late hou. Sy gesig is so duidelik soos daglig in my gedagtes, sy energieke en begeesterde aanbieding van al die wonderlike mense een gebeurtenisse wat ons gelei het tot die oomblik van noodlot waarin mens jou op enige gegewe tydstip bevind.

Die Geskiedenisklas van 1965 was nie soos skoolgaan nie, maar lekker soos teater, en mens kon nie wag om weer ʼn slag in sy klas op te daag vir die volgende spannende episode nie. Geen wonder dat ek op my nostalgievaart aan hom moes dink nie. En toe vergeet ek sy naam.

Dis om van nagmerries te kry, want my storie sal nooit regtig reg wees sonder sy regte naam nie, en dit is dan die rede vir hierdie brief. Is dit moontlik om na te slaan wie die senior Geskiedenisonderwyser in 1964/65 was?

En wat van hom geword het?

Baie dankie, voorlopig, vir die moeite. En beste groete uit die Alpe: toegesneeu en 20 C aan die ander kant van nul.

Excelsa Petamus, Absolut Menlo.

Ek het die man probeer help maar met die laaste briewewisseling het ons nog lank nie 100% sekerheid gehad nie.

Toe kom ek op die volgende in die eerste Kwêvoëls af en hoop dit kan hom straks help.




Dis amper 50 jaar later en die leerders doen steeds dieselfde, met net soveel oorgawe as destyds – hulle koppel die name van liedjies aan hul leerkragte, of hulle herinner hul onderwysers aan die sêgoed en uitdrukkings so eie aan die betrokke onderwyser.

Wat vir my 49 jaar later ontstellend is, is die feit dat sommige van hierdie aanhalings vandag nog, byna daagliks, op die skoolterrein gehoor word.

Hierdie laaste opmerking van mnr. Hatting speel homself daaglik, amper periode vir periode, af in die voorportaaltonnel van die skool.

Waarna mnr. Hatting verwys het, weet ek nie, dit kon nie 2012 se tonnel wees nie, want dié is eers in 2000 gebou. Maar dis duidelik:  hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Mnr. Botha, wie hy ook mog wees, word onthou vir “Die terrein is skoongemaak...” Ek het mnr. Manie Geldenhuis, huidige adjunkhoof, al male sonder taal hoor sê:  “Die terrein is skoongemaak, so ek sal nie die skool Vrydag later laat uitkom nie.” Male sonder tal.

Dit was daardie jaar seker nie vreemd vir ‘n onderwyser soos mnr. Engelbrecht om die leerders as “dames en here” aan te spreek nie; vandag se dae is dit heel uniek. In die 25 jaar wat ek skoolhou, weet ek van net een – ‘n jong, baie geliefde onderwyser wat nou drie jaar met ons is.

En dan daardie liedjies! It’s a sin, is vir my Pet shop boys se treffer uit die tagtigs. En dan moet ek tot my skande erken dat Rollo ver Beethoven ook vir my soos ‘n anachronisme gelyk het, maar ek was verkeerd. Ja, ELO het dit in 1973 opgeneem (die een wat ek ken) maar die Beatles het dit inderdaad in 1963 vrygestel, hoewel dit dan nou ook maar hul vrystelling van Chuck Berry se liedjie uit 1956 was.

1 comment:

  1. Dankie Hans, vir hierdie lekker blik op die verlede. Ek onthou nog baie van die name en heelwat van die gesigte. En ek bewonder nog steeds julle spesiale groep mense genaamd onderwysers, wat vir kinders soos ek kon skoolhou sonder om iets ernstigs te pleeg. Respek hoor. Alle sterkte en groete uit die Alpe. En ja, dit was beslis Mnr Liebenberg wat vir my die gekleurde ligte van Geskiedenis aangeskakel het.

    Johannes Denysschen

    ReplyDelete