Saturday 24 March 2012

Lentedag 1967 (episode 2) en 14 April 2012

Hierdie hele kermis was drie bladsye in die Eggo van destyds. Maar om die 3 bladsye in geheel af te tas en dit dan op die blog te wil spoeg en plak sou die foto'tjies so klein gemaak het, dat dit nie moeite werd sou wees nie.

Toe knip ek maar elkeen uit.

Daarom ook dat dit oor twee inskrywings loop:  die aftas, knip, spoeg en plak vreet toe die hele toetsperiode op, en toe moes ek klas toe. Ek is ook bang 'n inskrywing raak te swaar aan die foto's en alles neem te lank om oop te maak.


Intussen het Pieter Swanepoel, hy was '67 in matriek laat weet:


Goeiedag Almal

Ek en Pieter van Niekerk (wat lank reeds in Kanada woon) het oor die jare kontak behou, hy is op 14 April 2012 op besoek in Pretoria .

Ons het afgespreek vir ‘n koffie by Java, in Lynnwoodweg, oorkant die manskoshuise.

Toe begin ons dink om nog ‘n paar ou skoolpelle te nooi en toe dink ons nee, nooi almal, seuns en dogters, met of sonder lewensmaats.

In groot organisasies, wanneer personeel verminder, praat hulle van ‘natural attrition’ (natuurlike afslyting) wat ook bietjie waar begin word vir ons klas van ‘67.

Sò (Dr van Aardt sou die stuipe kry, die korrekte voegwoord is: “Dus”) julle is almal hartlik uitgenooi om ons te join op Saterdag 14 April om 9h00 by Java ( toemaar, die Bulls speel eers 7nm). As julle weet van ander wat nie op die distribusielys is nie, sê hulle, asb.

Dis nou 45 jaar na matriek, ek sê maar net, lest we forget.

Julle moenie RSVP nie, ons wil nie weet wie kom nie, laat dit ‘n verrassing wees (nie ‘n verassing nie).

Laat dit juig tot dan….skryf die datum in op jou ipad en voel lekker as jy daai oggend opstaan.

O ja, daar is een voorwaarde, jy het net die eerste 5 minute om oor skete te praat, daarna is dit ‘verboten’.

Parkie- groete

Pieter Swanepoel


Hier dan episode 2 en die opregte wens dat Java 14 April stoele moet aandra van oorkant die pad by die manskoshuise.

(Iemand uit '67 wat met Pieter kontak wil maak, is welkom om my te e-pos; sy kontakbesonderhede gaan ek egter nie sommer hier aan die groot klok hang nie.)



Dis soos met 'n kerkbasaar in die Kalahari! Daardie wors lê die skottels vol in stringe. Daar word dit porsiegrootte afgedraai vir braai op daardie baie lae roosters daar agter. My rug, my arme rug!

Ek sien nou eers die ry vuur agter die roosters. (Die doel met hierdie blog is geensins om Afrikaner-Nasionalisme aan te wakker nie, maar hoe meer ek hierna kyk, hoe meer raak ek trots ek het bietjie van hierdie bloed in my voorgeslag ook. Hierdie foto vertel van iets uit die verlede waaroor ons goed kan voel.)




Ek glo dis pannekoek wat daar gerol word. Tweede in die ry staan 'n man met 'n swart pak, das en baadjie. Dis lentedag '67. 



Hoe lyk dit dan of die drie meisietjies regs skooluniform aan het. Kan tog nie wees nie. Wat het ons die pote van daardie tafels genoem? Donkies? Krukkies? Ek wonder of jy vandag 2 van hulle op die terrein sal opspoor. En dan was ek verniet so bewus van die vorige man se pak - kyk die spoggerige baadjie en blom in die lapel, daar in die middel.



Wat vir 'n stalletjie/kraampie het ons hier. Veldblomme?




Die bottels is leeg - teruggehandig vir die deposito, natuurlik. En die houte kissies met kouedrank onder die sinkbad links agter koop ons deesdae ten duurste aan.



Wat hierdie moeders doen, sal ek nie weet nie. Maar dit maak ook nie saak nie - stel jou net voor die tyd en aandag wat vanoggend elkeen se haarkapsel ingegaan het.



Ek het nie 'n idee waar hierdie geneem is nie - daardie leestafels wat teen die muur ingebou is, is jare al weg.

 

O, die tombola! Watter stalletjie is opwindender dan die tombola-een. Praat ons vandag van tombola dink die leerders dis 'n nuwe soort dans waarvan jy op youtube leer.



Sal dit nie lekker wees as die meisie links haarself kan herken en laat weet wat sy aanvang nie. Dit sal nie vissievang wees nie. Hier word ook nie 'n appel uit die meel geëet nie. Is dit die ma's se naaldwerk of die leerders s'n.



Dis die ouers wat orals al die werk doen. Het dit maar so gegaan?



As ek nou die seuntjie daar regs was, het ek tien teen een met begerige oê na 'n ornament gekyk wat ek self uit my ouma se huis aangedra het. Ek onthou hoe jaloers ek een jaar op 'n maatjie was wat een van die ornaments uit my ouma se display cabinet gewen het - twee glas mossies op 'n glastak, en dan is die mossies 'n sout-en-peper-stel. En vir daardie maatjie se ouer sussie se twee kinders het ek jare later hier by einste Menlopark skoolgehou.



No comments:

Post a Comment